ONWAAR: APARTHEID HET DIE SWART VOLKE IN SUID-AFRIKA HUL VRYHEID MISGUN

 

INLEIDING

Om die bovermelde onwaarheid te weerlê, is dit nodig om die verweer te fundeer, wat in hierdie geval hoofsaaklik om politieke beleid wentel.

Die ware (waarheids) inhoud van ‘n politieke beleid is nie te vinde in die kwaadwillige karikatuur wat opposissie partye dikwels daarvan maak nie, maar wel soos dit wit op swart deur die betrokke party geformuleer is. In die geval van apartheid het die beleid sy beslag gekry tydens die Nasionale Party kongres twee maande voor die 1948 verkiesing. Verdere ontplooïng het gevolg in Parlementêre toesprake deur Nasionale Party leiers waaronder dié van dr Verwoerd veral van toepassing is. Beleidsgewys is dit dan ook die gronde waarop sommige van die onwaarhede weerlê sal word.

 

AGTERGROND

Daar bestaan ‘n neiging (kwaadwillig) om alle ongelykhede tussen Wit en Swart, sowel as die sogenaamde “euwels” wat daarmee gepaardgaan, aan die Blanke Afrikaner toe te dig. Hierdie beskuldiging moet teen die agtergrond van die geskiedenis gesien word.

Eerstens was daar met die vestiging van die Blankes aan die Kaap (Jan van Riebeeck) ‘n onvergelykbare kulturele ontwikkelingsverskil tussen Wit en Swart, wat voortgeduur het tot vandag toe, en vanselfsprekend ook in 1948 daar was. Dit is eeue der eeue se verskil wat nie vinnig of gou, indien ooit, gelykgemaak kan word nie.

Tweedens was die Afrikaner, feitlik deur sy hele bestaan, in ‘n oorlewingstryd gewikkel, en was die Nasionale Party van 1948 die eerste suiwer Afrikaanse Nasionale regering. Voor hierdie tyd het die Afrikaner weinig inspraak en vermoë gehad in die lot van ander volke in die land. Dit is opvallend dat juis hierdie regering, onmiddellik na sy bewindsaanvaarding, begin aandag gee het aan die lot van die Swart volke.

Die onweerlegbare feit is dat die Nasionale Regering van 1948 die eerste regering in Suid-Afrika was wat ‘n magtige poging aangewend het om spesifiek die Swartes op te hef en te ontwikkel. Ook was dit die enigste regering in die hele wêreld om ‘n ander ras binne dieselfde landsgrense tot dié mate te bevoordeel.

 

LEEF EN LAAT LEEF

Afgesien van omslagtige redenasies, is die eenvoudige feit dat in ‘n land waar verkillende beskawings saam bestaan, met sulke groot kultuurverskille dat harmonieuse integrasie onmoontlik is, en waar die ontwikkelde groep ongeveer 10% van die totale bevolking uitmaak, is dit nie die 90% wat bedreig word nie, maar wel die 10%. (Kyk Verwoerd *1)) Die realiteit wat Verwoerd besef het is dat daar slegs twee moontlikhede bestaan, of volle integrasie met ontsaglike lyding, ontbering en uiteindelike ondergang van die mindere groep, of totale skeiding en ‘n eiesoortige leefwyse vir elke groep volgens sy eie aard en keuse. Hierby inbegrepe is ook die feit dat die minderheidsgroep nie sal kan voortbestaan as hy alle voorregte en seggenskap in sy eie hande wil hou nie, maar dat voortbestaan slegs verseker kan word deur ‘n beleid van “geregtigheid vir almal”. “Apartheid wil die veiligheid, geluk en voortbestaan van almal moontlik maak en beoog harmonie vir almal. “Die huidige Regering neem die standpunt in dat hy vir ander gun en wil gee presies wat hy vir homself opeis”. *2)

 

Die bogenoemde besef dat die Blanke minderheid nie sal kan voortbestaan as hy nie gelyke voorregte vir die meerderheid anderskleuriges gun, en hulle help om dit te kry nie, weerspreek die stelling direk dat apartheid die Swarte hul vryheid misgun het. Enige vryheid van ‘n oormag Swartes saam met ‘n minderheid Blankes op dieselfde grondgebied, sou eweneens die ondergang van die Blanke inhou, en daarom was die volgende uitgangspunt vryheid en heerskappy van elke ras in sy eie gebied: “(Die huidige Regering) neem die standpunt in dat hy vir ander gun en wil gee presies wat hy vir homself opeis. Hy glo in die heerskappy (baasskap) van die Blanke in sy gebied, maar dan glo hy ook net so in die heerskappy (baasskap) van die Bantoe in sy gebied” *3) Waar daar inkorting van Bantoeregte in Blanke gebied was, is volle uitlewing in Swart gebiede geskep.

 

VOOGDYSKAP

Om die Swarte sy vryheid en onafhanklikheid te gun, is daar egter een noodwendigheid; hulle moet instaat wees tot selfonderhoud en selfversorging, en op daardie stadium (en selfs vandag nog) was die Swartes aangewese op ‘n onderhoudsekonomie. Op landbougebied was bv. hoogs ontwikkelde blanke plase wat onder konsolidasiewetgewing aan Swartes toegeken is, tenspyte van voorligtingsdiens, binne een tot drie jaar totaal verwoes. Dieselfde gebeur vandag met sogenaamde “grondhervorming”. (Ironies was die pogings onder apartheid om die Swarte op te hef deur die opposissie afgemaak as “paternalisties”.) Nietemin, in 1947 was die sendingbeleid van die NG Kerk “dat dit die Christelike plig van die Blanke is om as voog oor die Nie-Blanke rasse op te tree tot tyd en wyl hulle die peil bereik om oor hul eie sake self te kan beslis”. Hierdie sendingbeleid is in alle besonderhede as Nasionale Party beleid aanvaar en oorgeneem.

 

STAATSTELSEL

‘n Eie land, selfversorging, onafhanklikheid, vereis noodwendig politieke onafhanklikheid. Reeds na Uniewording is toenemend gekonsentreer op die beginsel van afsonderlike parallelle instellings vir die onderskeie bevolkingsgroepe, en na 1948 is doelbewus in die rigting beweeg van geheel onafhanklike State vir die Swartes, totdat in 1976 die Transkei die eerste onafhanklike Swart Staat geword het.

Nie slegs met onafhanklikheid nie, maar selfs voor dit, het die Swart volke volle stemreg in hul eie lande geniet. Dit is dus ‘n leuen dat die Swartes tydens apartheid nie kon stem nie. Natuurlik kon hulle nie in Blanke gebied stem nie, maar dit is trouens die kern waaromheen die hele vraagstuk van volkere differensiasie gewentel het, en waarteen die liberale humanisme soos gif gekant is.

Hierdie staatkundige ontwikkeling het met die leiding en hulp van die Blanke besonder voorspoedig en glad verloop, tenspyte van die feit dat die Blanke se demokratiese stelsel, en administratiewe prosedure vir die Swarte vreemd was. Die benadering om die demokrasie met die tradisionele stamstelsel te kombineer, was baie suksesvol om die aanpassing te vergemaklik.

 

Is al hierdie pogings bewyse dat apartheid die Swart volke hul vryheid misgun het??

 

ONTWIKKELINGSPROGRAMME

Soos in elke moderne landsadministrasie verskillende staatsdepartemente bestaan om die verskillende funksies te vervul, so is in die Tuislande dieselfde patroon gevolg onder leiding van die Departement van Samewerking en Ontwikkeling. Hierdie departement was dikwels beskryf as ‘n mini-staatsdiens vanweë al die funksies wat dit in tuislandontwikkeling vervul het, en wat geleidelik na die tuislande self oorgeplaas is.

 

Dit is nie moontlik om in die bestek van een artikel al die ontwikkelingsprogramme te bespreek nie, maar dit het die volle omvang van die Tuislande se staatkundige, ekonomiese, maatskaplike en finansiële dienste omvat. ‘n Indiepte studie van elkeen van die programme lei tot die gevolgtrekking dat sover dit daadwerklike ontwikkeling betref, die afleiding gemaak kan word dat, behalwe vir landbouontwikkeling, geen van die ontwikkelingsprogramme summier as mislukking afgeskryf kan word nie.

 

Sover dit die totale besteding van alle staatsinstansies in die Tuislande betref, is daar ‘n teenstrydigheid in die teenstanders se kritiek te vinde. Enersyds is die verwyt gehoor dat nie genoeg gedoen word vir die opheffing van die Swarte nie, en andersyds is weer groot gewag gemaak van die “onverantwoordelike verkwisting van fondse op Tuislandontwikkeling”. Die feit wat hier in die oë gekyk moet word, is dat Suid-Afrika ‘n ekonomies dualistiese land is waar ‘n gelyker verspreiding van ontwikkeling noodsaaklik is, hetsy apartheid of nie apartheid nie. Tydens apartheid het die besteding op Tuislandontwikkeling nogtans ‘n groot deel van die totale landsbegroting uitgemaak, wat ‘n belangrike bydraende faktor was dat die land se inkomstebelasting van die hoogste in die wêreld was, wat vandag ook nog die geval is, met veel minder positiewe resultate wat tans gewys kan word.

In 1983 het die besteding deur Owerheidsinstellings in al die Tuislande die bedrag van R2 935 369 000 beloop. Weereens, bereken teen die geldwaarde van daardie tyd, was dit ‘n baie groot besteding.

 

Sonder om op besonderhede in te gaan, kan slegs gemeld word dat die begrotingspos “sosiale dienste” bykans die helfte (ongeveer 46%) uitgemaak het, van die totale Tuislandbesteding. Hiervan het gesondheid en welsyn ongeveer 26% ontvang en onderwys ongeveer 20%.

 

Swart onderwys:

 

Na 1798 is die eerste onderwys aan Swartes verskaf deur sendingskole. Sedertdien het Swart onderwys en die administrasie daarvan ‘n geleidelike evolusie ondergaan sodat in 1955 ‘n getal van 1 014 000 Swart leerlinge in 5 800 skole was en in 1974 was daar 3 600 000 Swart leerlinge in 11 947 skole. Dit geld vir primêre en sekondêre onderwys.

 

Die stelling dat daar geen tersiêre en universiteits geleenthede vir Swartes tydens apartheid was nie is ook ‘n growwe mistasting. Die eerste beskikbare syfers wat Blank en Swart apart aandui was in 1952 toe daar 1090 studente aan sogenaamde “oop” Blanke universiteite en aan Fort Hare was. Daarna is etlike Swart universiteite opgerig sodat in 1982 altesaam 8 universiteite slegs in die Tuislande was terwyl 4 Vista-universiteite vir Swartes in Blanke gebied opgerig is.

 

Laastens kan genoem word dat die totale besteding aan Swart onderwys toegeneem het van R281 800 000 in 1979 tot R707 215 000 in 1983. Teen daardie tyd se geldwaardes was dit ‘n formidabele bedrag geld. Dit verklaar waar al die “geleerde” Swartes in die post-apartheid Suid-Afrika so skielik vandaan gekom het. Die meeste is dus produkte van die “onderdrukkende apartheid”.

 

SLOT

Reeds in Verwoerd se tyd het die Swart meerderhede die reg begin eis op volle landsbeheer wat die Witman prakties uit die politiek sou stoot. Daar was ‘n doelbewuste poging om in te bars in die bestuursorganisasie van die Blankedom. *4) Slegs apartheid kon hierdie golf stuit met die benadering van “fairness to each and justice to all”. *5) Verwoerd het dit ook verder soos volg gestel: “Trouens, aan apartheid kleef nie ‘n enkele negatiewe kenmerk nie; dit is enduit positief en in belang van Blank en nie-Blank.” Maar, in stryd met hierdie positiewe benadering, het de Klerk verkies om die magte van die duisternis te dien, en die hele land, trouens die hele Suider-Afrika, in chaos te dompel.

 

Verwysings:

*1) Verwoerd, HF in Pelzer, AN, 1966, Verwoerd aan die Woord, Afrikaanse Pers Boekhandel, p.16.

*2) Ibid. pp. 16, 21.

*3) Ibid.

*4) Die Kommissie vir die Sosio-Ekonomiese Ontwikkeling van die Bantoegebiede binne die Unie van Suid-Afrika, 1955, Samevattende Verslag UG 61/1955, Pretoria: Die Staatsdrukker, p.13.

*5) Verwoerd, HF in Pelzer, Ibid. pp. XXXV, XXXVI.

 

PH du Preez